Quick Navigation

Platorand Jaarprogram 2018

Articles

Vioolspinnekop word vir baie Blameer

Published on 17 September 2013

Tans is daar verskeie berigte wat die rondte doen dat vioolspinnekoppe nou vollop in huise voorkom en enige oop wond is nou ‘n “vioolspinnekop” byt.

Suid-Afrika het ‘n ryk spinnekopfauna en meer as 2000 spesies is reeds beskryf. ’n Verskeidenheid spinnekoppe kom in en om huise voor en kom dus in aanraking met mense. Meeste spinnekoppe vermy egter kontak en sal slegs uit self verdediging byt wanneer hulle vasgedruk of bedreig word. Alle spinnekoppe gebruik gif om kos mee te vang, maar min spesies is potensieel gevaarlik vir die mens. Wanneer ’n byt toegedien word speel verskeie faktore ’n rol bv die hoeveelheid gif wat afgeskei word en aangesien meeste spinnekoppe klein is, is die hoeveelheid gif wat afgeskei word gering.

Spinnekoppe speel ‘n belangrike rol in die natuur en as predatore is hulle die tuinier en boer (en huisvrou) se beste vriend omdat hulle op baie plaagspesies soos miere, termiete, kakkerlakke, plantluise, muskiete om maar net paar te noem, voed. Ongelukkig het meeste mense ’n onrealistiese vrees vir spinnekoppe gesien in ’n land waar daar baie meer gevaarlike diere is.

Die arme vioolspinnekop (Loxoceles) is nou in die nuus en verskeie valse berigte word versprei deur die internet en eposse oor hierdie groep spinnekoppe. Hulle behoort aan die familie Sicariidae en word in Suid-Afika as ’n skaars spinnekop beskou. Daar is byvoorbeeld oor ‘n 40 jaar periode nog geen vioolspinnekop in huise en tuine in Pretoria versamel nie. In die Nasionale Versameling van Arachnida wat meer as 150 000 spinnekoppe bevat is slegs 120 eksemplare vioolspinnekoppe en hiervan is slegs 11 in huise versamel. Tans is daar ’n projek die Suid-Afrikaanse Nasionale Opname van Arachnida (SANSA) aan die gang en uit die >10 000 eksemplare wat jaarliks versamel word is miskien 2-3 vioolspinnekoppe. As deel van SANSA is daar ‘n virtuele museum beskikbaar waarheen die publiek fotos kan instuur wat dan op die web vir die almal beskikbaar is. Uit die >2000 fotos reeds ontvang, meestal van spinnekoppe wat in en om huise gevind word is slegs 11 van vioolspinnekoppe en 5 daaarvan was vanaf een lokaliteit.

Vioolspinnekoppe is nie volop in huise in Suid-Afrika nie en dit is belangrik dat indien ’n spinnekop iemand byt dit deur spesialiste geïdentifiseer word. Die vioolspinnekop kan moeilik vanaf ’n foto geïdentifiseer en ons vind dat in 80% of meer gevalle die oorspronklike identifikasies verkeerd is. Die vioolspinnekoppe het ’n afgeplatte borsstuk, ses oë, lang bene en is bruin tot rooi-bruin met donker patrone op die agterlyf en ’n dowwe viool-vormige merk op die borsstuk.Die vioolspinnekoppe is vrylewend dus woon hulle nie in webbe en kom voor in grasland en enkele spesies woon slegs in grotte. Hulle is in die nag aktief, wanneer hulle rond beweeg op soek na kos.

Die byt is pynloos en word gewoonlik nie waargeneem nie en in die proses word geen spinnekop gesien nie. Na 2-3 uur swel die bytplek en vorm ’n rooi area met ‘n donker pers kern. Oor ’n dag of twee vorm die wond ’n nat blaas wat donker raak van kleur. Gewoonlik na die vierde dag verminder die swelling en infeksie. Die nekrotiese weefsel sterf af en dit laat ’n wond wat soms sukkel om te genees. Daar is geen antivenien beskikbaar en behandeling moet fokus op voorkoming van sekondere infeksies agv bakteriële besmetting.

In 99% van die gevalle word die spinnekop nie gesien wat byt toedien  nie en dan volg spekulasies en die verkeerde identifikasie van moontlike spinnekoppe.  Tans is die vioolspinnekoppe die groep wat dus valslik geblameer word. Daar is 'n lys van >30 siekte toestande wat verkeerdelik as  spinnekopbyt geidentifiseer word. In New Zealand is die misidentifikasie van spinnekopbyte so hoog as 72% terwyl in Suid-Afrika ons skat dat dit  ongeveerd 48% is. Die spinnekop gif is ’n protiën en breek vinnig af. Tans is daar nog GEEN toetse wat 'n spinnekopbyt kan bevestig nie. In >50% van die moontlike ernstige byte is die pasiente dan ook diabete en dan is dit ‘n mediese probleem eerder as die spinnekopgif.

As persone vermoed dat hulle moontlik vioolspinnekoppe het is hulle welkom om fotos te neem en te stuur aan  This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. . Vir meer inligting besoek ons webwerf by www.arc.agric.za (sien quick link SANSA) en dan "Everything you want to know about Violin spider bites".

Prof. Ansie Dippenaar-Schoeman
Specialist Scientist
Landbounavorsingsraad

 

Search

We have 64 guests and no members online